Labels

Thursday 1 December 2011

Suidoosterfees-webwerf benoem vir Awward!



Met sy bont kleure, gebruikersvriendelike uitleg en prettige ontwerp is die Suidoosterfees se webwerf, www.suidoosterfees.co.za, ’n ware fees vir die oog.

Active Ice Digital Media Studio het die spoggerige webwerf, asook die feesprogramboekie, ontwerp en boonop die Suidoosterfees-webwerf vir ’n Awwward-toekenning ingeskryf. Nou pryk www.suidoosterfees.co.za as benoemde op www.awwwards.com.

”Die Suidoosterfees-webwerf is iets waarop almal kan trots wees,” sê Sean Leask, ’n digitale media-ontwerper by Active Ice wat by die Suidoosterfees-webwerf se ontwikkeling en instandhouding betrokke is. ”Dis kleurvol, opwindend en beslis die moeite werd om te besoek.”

Awwwards gee erkenning aan wêreldwye webwerf-ontwerpe. Luidens die webwerf sal ’n internasionale paneel, bestaande uit ontwerpers, bloggers en Internet-agentskappe, elke benoemde webwerf evalueer en punte gee in terme van ontwerp, kreatiwiteit, hoe gebruikersvriendelik dit is en hoe die inhoud aangebied word.

Die beste webwerwe word die ”site of the day” en sal in die boek The 365 best css websites around the world ingesluit word.

Gaan na http://www.awwwards.com/best-websites/suidoosterfees om vir die Suidoosterfeeswebwerf te stem.

·         Die Suidoosterfees is van 14 tot 19 Februarie by Artscape. Besoek www.suidoosterfees.co.za, Facebook en Twitter, stuur e-pos na suidooster@media24.com of bel 021 446 1558.

Thursday 24 November 2011

Suidoosterfees 2012: 'n Fees van Liefde

Vinette Ebrahim en Christo Davids in
My Naam/Name is Ellen Pakkies.
Met “ ’n Fees van Liefde” as tema beloof Suidoosterfees 2012, wat by Artscape plaasvind, ’n program propvol liefde – ’n liefde vir kuns, jou geliefde, vir familie en vir die lewe.

Verskeie bekendes sal tydens die fees optree, soos Vinette Ebrahim en Christo Davids (in My Naam/Name is Ellen Pakkies), Ingrid Paulus en Kim Cloete (in Dit Voel Leeg), die 2011 Kanna-Slurpie-wenner Shimmy Isaacs (in die trefferkomedie "Howzit my Bra"), Emo en Loukmaan Adams (in ’n Plekkie in die Son ... Mitchells Plain se Mense) en Casper de Vries in ’n stoute vertoning spesiaal vir die Suidoosterfees.

Rocco de Villiers

Musiekgunstelinge soos Rocco de Villiers, Auriol Hays, Ringo Madlingozi, die Delft Big Band en Kaapstad se bekende, gewilde fopdosser, Odidiva, sal gehore verder vermaak. Aanhangers van 2011 se Huisgenoot Gospelkonsert moet kennis neem van die volgende vertoning met Juanita du Plessis, Romanz, Rouchelle Liedemann, die SA Jeugkoor, Ivan Swiegelaar, Bobby van Jaarsveld, Trevor Sampson, Joe Niemand, Riana Nel, Matthys Maree en sy orkes. Voeg by dié opwindende musiekproduksies die uitstekende, derde SOF Klassiek-konsert met opkomende jong sterre, Friedel Mitas (sopraan), Ryan van der Rheede (tromboon) en Megan-Geoffrey Prins (pianis).

Een van Walter Battiss se kunswerke. 
 Ons vier die liefde vir die visuele met ’n uitstalling van werke deur Walter Battiss. Hy was die skepper van die Fook Island-konsep en sy briljante werke is wêreldwyd beroemd.

Kuier Hart2Hart
Wat is nou beter as om die fees op 14 Februarie met ’n dans te te begin? Die Kuier Valentynsdans sal net die plek wees om die liefde op die dansvloer te laat seëvier.

Viva la Mamma. Foto deur Jesse Kate Kramer
Die Suidoosterfees bring ook splinternuwe teaterwerke na die verhoog. Dit sluit in die Afrika-première van die heerlike, vermaaklike opera Viva la Mamma, waarin die rol van die mamma, Donna Agata, deur die bariton Siyabulela Ntale, gepas geklee vir die rol, gesing word.

'n Plekkie in die Son ... Mitchells Plain
se Mense
  ’n Plekkie in die Son... Mitchells Plain se Mense is ’n unieke musiekteaterproduksie met bekende kunstenaars, soos die broers Emo en Loukmaan Adams, wat die stories van Mitchells Plain se verlede en hede vertel deur musiek, dans, komedie en meer. ’n Boek oor Mitchells Plain sal ook by die produksie se première bekend gestel word. Me. Marlene le Roux van Artscape is die samesteller van hierdie koffietafelboek, wat met die ondersteuning van die Franse Regering via Alliance Francais en onder leiding van dr. Ludmilla Ommundsen moontlik gemaak is.

Kim Cloete vertolk die hoofrol in Dit Voel Leeg.
Die Afrikaanse toneelstuk Dit Voel Leeg, gebaseer op die Britse dramaturg Lucy Kirkwood se It Felt Empty When The Heart Went At First But It Is Alright Now en vertaal deur Hugo Taljaard, handel oor hoe ’n onskuldige meisie van Rehoboth (vertolk deur die televisiester Kim Cloete) na Kaapstad gelok en in ’n lewe van prostitusie vasgevang word. Die 7de Laan-aktrise Ingrid Paulus is ook in die stuk te sien, met 7de Laan se regisseur, Henry Mylne, as regisseur van dié stuk.

Mimi Coertse
Die Suidoosterfees vier saam met kykNET die bekroonde Suid-Afrikaanse operasanger Mimi Coertse se 80ste verjaardag in 2012 met ’n spesiale konsert, getiteld kykNET vir Mimi, met plaaslike sangtalent.

Die Central Karoo Revue
Die gemeenskap van Beaufort-West kom na die voorgrond in Die Central Karoo Revue, ’n produksie van musiek, dans en sang oor hierdie dorp in die hart van die Karoo.

Peter Butler is deel van Baby se rolverdeling.
 Nog nuwe produksies sluit in Baby, gebaseer op die kortverhaal van die bekende EKM Dido.

Uhlazo
Die fees se program sluit ook in die isiXhosa drama Uhlazo, wenner van die 2011 Zabalaza-fees van die Baxter-teater, die Suidoosterfees 2011 juweelstuk Cockroach en Venus Noire, die Franse Filmfees-treffer oor die moeilike lewe van Sarah Baartman, in.

Erica Wessels is te sien in
Bullets over Bishop Lavis.
Ander feesgunstelinge op die Suidoosterfeesprogram is Bullets over Bishop Lavis (geskryf deur Christo Davids en regie deur Jody Abrahams), Bye Ma, Jaypee (met die gewilde voormalige 7de Laan-akteur Chris van Niekerk), Jonas (’n treffer by die Volksblad-kunstefees van 2010 wat handel oor die Weskus-vissermanne se struwelinge), Trein Smash (Riaan Visman se kabaretopvolg van die gewilde Kap’An by Suidoosterfees 2011), GIF (Celeste Slabber-Loriston se eenvroustuk oor die getroude lewe en al sy uitdagings), die Weskus/Eden Dramafees (vier van die beste skoleproduksies uit dié omgewings), die uiters gewilde Rapport/ATKV-korekompetisie, asook kindervermaak met Lollos, Cool Classic Kidz en Liewe Heksie en die Wals (met Dowwe Dolla as die heks). Kuier Hart2Hart sal spesiaal vir vroue vier ure propvol vermaak bied.
  
Rachelle Jordaan gaan in Die Burger/RSG-tent optree.
 Laaste, maar nie die minste nie, is gratis, topklas vermaak op die spyskaart in Die Burger/RSG-Tent waar opkomende Kaapse sangers deurlopende musiekvermaak vanaf 17 tot 19 Februarie sal verskaf.

Kaartjies vir Suidoosterfees-produksies is beskikbaar by Computicket. Besoek www.suidoosterfees.co.za, www.facebook.com/Suidoosterfees en www.twitter.com/Suidoosterfees_ vir feesnuus. Stuur e-pos aan suidooster@media24.com.


Thursday 17 November 2011

Beleef Jaypee Malherbe se eg menslike verhaal op Suidoosterfees 2012


Bye Ma, Jaypee is ’n eg menslike, ware verhoogstuk oor ’n gay seun se liefde vir sy ma, met lewensgetroue humoristiese oomblikke wat jou sal laat huil van die lag om kort daarna weer ’n hartseer traan weg te pink.

Dit is akteur Chris van Niekerk, wat die rol van die seun, Jaypee Malherbe vertolk, se eerste eenmanvertoning. Van Niekerk is veral bekend as Francois in 7de Laan en het met sy briljante vertolking in die toneelstuk Dinsdae by Morrie teatergangers se hartsnare geroer.

Die bekende Dowwe Dolla, Margit Meyer-Rödenbeck, is die regisseur van Bye Ma, Jaypee en die teks is deur die Nagtegaal-dramateksfinalis Daleen Kruger, wie se Jonas ook op die fees te sien sal wees, geskryf.

Die produksie sal slegs twee keer tydens die Suidoosterfees opgevoer word – Saterdag 18 Februarie om 14:30 en Sondag 19 Februarie om 17:30. Kaartjies R85 by Computicket.

·         Die Suidoosterfees vind van 14 tot 19 Februarie by Artscape plaas. Die volledige feesprogram word op 25 November bekend gemaak. Besoek www.suidoosterfees.co.za, www.facebook.com/Suidoosterfees of Twitter vir feesnuus en meer. Rig navrae aan 021 446 1558 of suidooster@media24.com.

Thursday 10 November 2011

Mitchells Plain se mense stuur die vlagskip op Suidoosterfees 2012!




’n Glansryke koffietafelboek, ’n weeklange foto-uitstalling én ’n produksie met bekende Kaapse glanspersoonlikhede van Mitchells Plain, is die vlagskipaanbieding op die negende Suidoosterfees vanaf 14 tot 19 Februarie by Artscape.

n Plekkie in die Son ... Mitchells Plain se Mense is ’n ko-produksie tussen die Suidoosterfees en Artscape met ’n sterbelaaide rolverdeling soos onder andere Emo en Loukmaan Adams, die Khoisan rapper Blaqpearl, die SA’s Got Talent-wenner James Bhemgee en Melanie Jones. Die bekende Basil Appollis is die regisseur van hierdie musiekteater wat storievertellings en liedjies kombineer om met deernis die verlede en hede van Mitchells Plain uit te beeld.

Me. Marlene le Roux, direkteur van Artscape en die Suidoosterfees, het die gelyknamige koffietafelboek saamgestel met befondsing van die Franse Regering via die Alliance Francaise in Mitchells Plain, onder leiding van dr. Ludmilla Ommundsen, en word op 15 Februarie, voor die première van ’n Plekkie in die Son ... Mitchells Plain se Mense, bekendgestel.

’n Gratis voorlesing uit die boek sal ook op Vrydag 17 Februarie om 17:00 voor die vertoning plaasvind.

’n Plekkie in die Son ... Mitchells Plain se Mense sal slegs twee vertonings op die Suidoosterfees hê – Woensdag 15 Februarie om 19:30 en Vrydag 17 Februarie om 18:00. Kaartjies kan vanaf 11 November by Computicket bespreek word.

·         Besoek www.facebook.com/Suidoosterfees, Twitter of www.suidoosterfees.co.za, bel 021 446 1558 of stuur e-pos aan suidooster@media24.com

Friday 4 November 2011

Kom kuier saam met Kuier by Suidoosterfees 2012



Die gewilde twee-weeklikse tydskrif Kuier, wat met elke nuwe uitgawe soos blits van die winkelrakke afvlieg, bied twee kuiergeleenthede aan by die Suidoosterfees van 14 tot 19 Februarie.

Bring jou geliefde en gee jou lyf ’n tyd met die Kuier Valentynsdans wat dié fees van liefde op ’n gepaste wyse op 14 Februarie open. As jy liefs is vir dans – van langarm tot jazz – is dit net die ding vir jou.

Ná die Valentynsdans kuier ons voort met Kuier Hart2Hart. Dié glansoggend op 18 Februarie vier die liefde met ’n baie spesiale program. Daar word gepraat oor die liefde, gesing oor die liefde en ook gekook met liefde. Dit alles vir net R70 vir ’n oggend gevul met vermaak spesiaal vir vroue, maar gades en geliefdes is ook welkom.

Maak seker jy bespreek sommer gou jou kaartjie vir lekker kuier, want daar is ook 100 spesiale naweekpakkette beskikbaar teen R170, wat ’n kaartjie vir Kuier Hart2Hart en My Naam/Name is Ellen Pakkies vir Sondag 19 Februarie om 13:00 insluit.

Kaartjies vir die Kuier Valentynsdans kos R150 per paartjie.

Alle kaartjies is beskikbaar by Computicket. Koop jou nuutste uitgawe van 9 November se Kuier vir meer inligting oor Kuier-genot op die Suidoosterfees.

* Die Suidoosterfees vind vanaf 14 tot 19 Februarie by Artscape plaas. Besoek www.suidoosterfees.co.za, www.facebook.com/Suidoosterfees of Twitter, bel 021 446 1558 of stuur e-pos na suidooster@media24.com.

Friday 28 October 2011

’Dit Voel Leeg’ debuteer op Suidoosterfees 2012



Mensehandel is ’n wrede Suid-Afrikaanse werklikheid. Hierdie onderwerp tree na vore in Dit Voel Leeg. Dié splinternuwe teaterdrama wat op die Suidoosterfees sal première, is geskoei op die Britse dramaturg Lucy Kirkwood se bekroonde, opspraakwekkende stuk It Felt Empty When The Heart Went At First But It’s Alright Now.

In Suid-Afrikaanse konteks, soos vertaal en verwerk deur Hugo Taljaard, en onder regie van 7de Laan- en Vaselinetjie-regisseur Henry Mylne, handel Dit Voel Leeg oor ’n naïewe jong meisie van Rehoboth in Namibië, wat onder valse voorwendsels deur haar Nigeriese kêrel na Kaapstad gelok word. Sy word gedwing tot ’n lewe van prostitusie en dwelms, maar haar drome om weg te breek verdwyn nie, ondanks die aaklige omstandighede waarin sy haarself bevind.



Kim Cloete speel die hoofrol en 7de Laan se Vanessa, Ingrid Paulus, vorm saam met haar die tweeluik.

Aangesien slegs vyf vertonings van die stuk in die Brimstone/Lion of Africa Arena, met beperkte getal sitplekke op Suidoosterfees 2012 aangebied word op Woensdag 15 Februarie om 18:00, Donderdag 16 Februarie om 20:30, Vrydag 17 Februarie om 17:30, Saterdag 18 Februarie om 12:00 en Sondag 19 Februarie om 12:30, moet teaterliefhebbers spring om kaartjies te bekom. Toegang is R95 en kan vanaf 28 Oktober by Computicket gekoop word.


·         Suidoosterfees 2012 is vanaf 14 tot 19 Februarie by Artscape. Bel 021 446 1558, besoek www.suidoosterfees.co.za, www.facebook.com/Suidoosterfees, Twitter of stuur e-pos na suidooster@media24.com

Thursday 20 October 2011

Legendariese Ringo Madlingozi eenmalig op Suidoosterfees-verhoog



Ritme. Inspirasie. Natuurlike talent. Goed. Oorspronklik. Dit is RINGO. Daar is min Suid-Afrikaanse sangers wat so in voeling met die ritme van hul siel is soos die briljante, Gugulethu-gebore sanger, Sindile Ringo Madlingozi. Vir sy aanhangers in Suid-Afrika en die res van die wêreld is hy slegs bekend as Ringo: Ringo wat die land aan die praat gehad het toe hy destyds in 1986 die Shell Road to Fame-kompetisie saam met sy vriende en medemusikante, Peto, gewen het; die ster by musiekgeleenthede oor die wêreld heen.

Vanaf sy debuut, Vukani, in 1996 tot sy 2010-album, Jayva Sbali, het Ringo homself gevestig as ’n kunstenaar wat liedjies met ’n sterk Afrikastem skep, maar wat ook met ’n wêreldwye gehoor praat.

Sy energieke vertonings het aan hom groot lof besorg, iets waarna Suidoosterfees 2012 feesgangers kan uitsien. Hy het wêreldwyd gehore betower, van die North Sea Jazz Festival in Den Haag, Nederland, uitverkoopte vertonings in Brittanje en Spanje tot die gewilde New Orleans-jazzfees in Amerika. Plaaslik het hy ook SAMA- en Kora All African Music Awards-benoemings ontvang.

Kaartjies vir Ringo Madlingozi se vertoning by Suidoosterfees 2012 is vanaf 21 Oktober by Computicket beskikbaar. Aanhangers moet wel vroeg reeds bespreek om teleurstelling te voorkom, aangesien daar slegs een vertoning op Saterdag 18 Februarie om 20:30 in Artscape se Operahuis is.
·         Die Suidoosterfees is van 14 tot 19 Februarie by Artscape. Bel 021 446 1558, stuur e-pos na suidooster@media24.com of besoek www.suidoosterfees.co.za.

Thursday 13 October 2011

‘Viva la Mamma’ - ’n heerlike fopdos opera by Suidoosterfees 2012


Donizetti se genotvolle, komiese opera, Viva la Mamma, gaan Kaapstad op horings neem met ’n Afrika première tydens die Suidoosterfees. Dit sal die vierde SA Richard Wagner Vereniging operaproduksie op die Suidoosterfees wees.  Viva la Mamma is ’n opera binne ’n opera met drie veeleisende divas, ‘n maestro en ‘n komponis met enorme egos, en al die drama wat agter die skerms plaasvind.

Uitstekende, lewenslutige, plaaslike jong sangers - Hlengiwe Mkhwanazi, Thesele Kemane, Lynelle Kenned, ­­­­­­­­­Thando Mpushe, Mandisinde Mbuyazwe, Karen van der Walt, Makudupanyane Senaoana en Phelo Nodlayiya - sal Viva la Mamma jou komiese opera-hoogtepunt van die jaar maak.  Die rol van die verruklike mamma, Donna Agata, word deur die bariton Siyabulela Ntlale in gepaste drag gesing.

Donizetti se lieflike musiek word met Kamal Khan as dirigent deur die Kaapse Filharmoniese Orkes uitgevoer.  Lara Bye, wat die uiters suksesvolle Der Fliegende Holländer vir Suidoosterfees 2011 regisseer het, is weer die regisseur en Reza Levy die kostuumontwerper. 

Terwyl finansiële druk die opera in Viva la Mamma bedreig, sal die histeriese Italiaanse libretto met Engelse boskrifte, die onderlinge jaloesie en klein jakkalsies wat so baie produksies beїnvloed, na vore bring.  Moenie hierdie unieke opera-eerste misloop nie!

Vertonings in die kykNET-teater van Artscape is op Donderdag 16 Februarie om 20:00, Saterdag 18 Februarie om 19:30 en Sondag 19 Februarie om 16:00. Kaartjies is R220, R185 of R100 en kan vanaf 14 Oktober by Computicket gekoop word. 

Friday 7 October 2011

Casper de Vries ’live’ by Suidoosterfees 2012


Die skreeusnaakse Casper de Vries trek met gemak verskillende karakters se “skoene” aan – van Blertsie, oom Kallie tot Montelle in sy komediesketse, plus rolle in Egoli, Sweet ’n Short en Oh Shucks Here Comes UNTAG. Hy het ook verskeie DVD’s, soos Broeders Ancestors, Mondig en Laat Daar Lag Wees, uitgereik.

Casper bring in 2012 ’n spesiale vertoning na die Suidoosterfees met Casper de Vries – Live, wat beloof om Casper op sy stoutse en beste te wees.

Aanhangers moet gou spring vir kaartjies, aangesien daar slegs een vertoning op Donderdag 16 Februarie om 19:30 in Artscape se Operahuis is. Kaartjies kan vanaf 7 Oktober by Computicket gekoop word en kos R100, R150 of R200.

Bel 021 446 1558 of stuur e-pos na suidooster@media24.com.

* Die Suidoosterfees vind van 14 tot 19 Februarie by Artscape plaas. Die volledige feesprogram word op 25 November bekend gemaak. Besoek die fees se Facebook-blad by www.facebook.com/Suidoosterfees vir feesnuus en meer.

Thursday 22 September 2011

Shimmy Isaacs terug by Suidoosterfees 2012 met ”Howzit my Bra”


Die talentvolle komediant Shimmy Isaacs het Suidoosterfees-gehore vanjaar laat kraai van die lag met haar eenvrou-komediestuk Allie Pad Funny Worcester.

Met reeds ’n wenslag by die 2010 Ikhewzi-fees, het Shimmy vanjaar nog ’n eerbewys ingeoes toe sy as die Klein Karoo Nasionale Kunstefees se Kanna Slurpie-wenner vir ”Howzit my Bra” aangewys is. Dié produksie met sy uitbundige humor sal beslis ’n komiese hoogtepunt op Suidoosterfees 2012 wees.

Die bekende aktrise Anthea Thompson, wat saam met Shimmy in die trefferkomediestuk Cracks and  the City te sien was, is die regisseur van ”Howzit my Bra”.

Tesame met verskeie kwessies rakende die bra, takel ”Howzit my Bra” ook die onderwerp van borskanker en gee ’n stem aan diegene wat die gevreesde siekte oorleef het.

”Howzit my Bra” word op 15 Februarie om 21:00, 18 Februarie om 14:30 en 19 Februarie om 18:30 by Suidoosterfees 2012 opgevoer. Besprekings vir dié stuk, My Naam/My Name is Ellen Pakkies en die Huisgenoot Gospelkonsert is reeds oop by Computicket. Skakel 021 446 1558 of stuur e-pos na suidooster@media24.com. Volg die fees by www.facebook.com/Suidoosterfees vir feesnuus en meer.

* Die Suidoosterfees is van 14 tot 19 Februarie by Artscape. Die volledige program is 25 November beskikbaar. Hou die fees se webwerf, www.suidoosterfees.co.za, en die pers dop vir meer besonderhede.

Thursday 15 September 2011

Hartroerende My Naam/Name is Ellen Pakkies op Suidoosterfees te sien



Met ’n tema van ” ’n Fees van Liefde” bied die Suidoosterfees in 2012 gepaste produksies waarin liefde die botoon vier. Liefde vir die kunste, familieliefde, ’n liefde vir kos, ’n liefde vir die lewe, noem maar op.

Die liefde van ’n ma vir haar seun is die hart van die hartroerende My Naam/Name is Ellen Pakkies. Dié gewilde toneelstuk, met die bekende aktrise Lizz Meiring as regisseur, is geskoei op die ware verhaal van Pakkies, ’n ma wie se liefde vir haar tikverslaafde seun haar tot die uiterste gedryf het: Moord.

Vinette Ebrahim, wat die rol van die geliefde koffiewinkeleienaar Charmaine in 7de Laan vertolk, is Pakkies en 7de Laan se ”Errol”, Christo Davids, haar seun, Abie.

Ebrahim, ’n Suidoosterfees-skouerklopwenner, was al verskeie keer op die Suidoosterfees te sien in onder meer Vaselinetjie, Miss Africa South, Poppie en Boesman en Lena. Davids was voorheen op die fees in Krismis van Map Jacobs.

My Naam/Name is Ellen Pakkies word twee keer tydens die Suidoosterfees opgevoer op 18 en 19 Februarie, telkens om 13:00. Besprekings reeds vanaf 16 September. Kaartjies by Computicket te koop.  

* Die Suidoosterfees vind vanaf 14 tot 19 Februarie by Artscape plaas. Bel 021 446 1558 of stuur e-pos na suidooster@media24.com.


Friday 2 September 2011

Kaap-Rapport/ATKV Korekompetisie-slypskole


Deur Rene Arendse


Ter voorbereiding vir die opwindende Kaap-Rapport/ATKV Korekompetisie 2012 het deelnemende kore van wyd en syd koreslypskole bygewoon gedurende Augustus.

Hierdie slypskool-avontuur het afgeskop in die Oudsthoornstreek waartydens gemengde kore, jeugkore en plaaskore 'n produktiewe slypskoolsessie met korekenner Elmine Bester kon geniet. Kore ontvang tydens die slypskool individuele aandag waartydens aspekte soos asemhaling- en opwarmingstegnieke aangespreek word. Met die toepassing van hierdie basiese koorsang elemente het sangkwaliteit en -produksie voor oë verbeter. Ander sang-elemente soos uitspraak, diksie en frasering verbetering het ons kore soos diamante geslyp. Ons gaskoor, Die Griekwa Nasionale Koor, het ons met besonderse gasvryheid ontvang in "The Crags" buite Plettenbergbaai. Ons tog het vanaf Plettenbergbaai voortgestuur na die Langkloof area. Ons gasvrou, Maralda Crous, het gesorg vir akkommodasie en ses plaaskore wie ons met hierdie slypskool kon verryk. Die kombinasie van pragtige berge en koorsang het ons harte warm laat klop.

Die Swartland was ons volgende stop... Plaaskore van omliggende areas het vir ons bewys dat toegewydheid vir die kunste nog lewe! Ongeveer 18 kore was tydens ons slypskool teenwoordig. Ons koorlede was betower met ons bekwame koorkenners en afrigters Sonja van Amstel en Ryta Zmuro. Kore het bemagtig en vol inspirasie ons slypskole verlaat. Vir baie kore was dit 'n proses van transformasie, veral vir die wie nog nooit enige professionele afrigting ontvang het nie. Swartland munispale ondersteuning was baie duidelik met die teenwoordigheid van hul lede en selfs hul wonderlike bydrae tot akkommodasie en gasvryheid.

Die Boland het ons op 'n hoogtepunt laat eindig. Vele kore van so ver as Ashton, Ceres en selfs Kaapse vlakte het ons verras met hul bekwame koorleiers en wonderlike talente! Sonja van Amstel het met elke koor haar passie en talent gedeel en verseker dat elke deelnemende lid kon terugkeer met nuwe insigte en 'n visie.

Groot dank en lof aan die ondersteuning van instansies wie ons slypskool moontlik kon maak deur hul gasvryheid met lokale en akkommodasie. Hoërskool Rhenish Meisieskool, Frank Pietersen Musieksentrum en ook die Swartland Stadsaal was o.a. van ons ondersteuners wie groot lof toekom. Hierdie instansies deel ons visie om kunste in ons gemeenskappe te laat voortleef en groei.


Vanaf ons koorlede: " Baie dankie Kaap-Rapport en ATKV... julle verander ons lewens!"










Wednesday 17 August 2011

Koreslypskool Avontuur!


 
René Arendse, projekbestuurder van Suidoosterfees 2012 se Kaap-Rapport/ATKV-korekompetisie, vertel meer oor 'n afgelope koreslypskool:

"Met sowat 1 800 km agter die rug kan ek getuig van absolute uitputting tesame met absolute tevredenheid met 'n naweek wat soveel harte geraak het!

"Ons eerste sessie was ongeveer 3 ure uit Oudsthoorn by 'n klein gemeenskap, "The Crags", waar die Griekwa Nasionale koor ons verwelkom het en ook die gaskoor was vir die deelnemende kore vir die dag. In 'n gemeenskap wat materieel so min het, het hulle uit hul min vir ons die beste binne hul vermoëns aangebied! Nie net het hulle vir ons span getrakteer nie, maar al die deelnemende koorlede vir die dag was bederf met roosterkoeke, gebraaide hoender, slaaie en selfs poeding. Deelnemende kore het hard gewerk en die vonkel in hul oë het getuig van die genot en insig deur die slypskool ontgin.

"Sondag oggend vroeg was ons oppad na Langkloof distrik sowat 4 ure uit Oudsthoorn. Daar was ons verras met 5 baie toegewyde plaaskore. Die hele gemeenskappie het later ingesit en elke koor toegejuig. Selfs die plaasboere van elke koor het met trots agter in die saal gesit en die sessie geniet. Baie kennis was oorgedra veral t.o.v. diksie, frasering en veral tegniek.

"BAIE DANKIE aan Heinrich van Rapport wie ons veilig vir soveel km laat reis het!!! Hy het 'n ongelooflike taak bemagtig!!

"Ons skep asem ... en sien uit na die naweek wat voorlê!"

Thursday 4 August 2011

Suidoosterfees-borge skitter met BASA-benoemings

Die Burger en die Protea Hotel Victoria Junction is onlangs benoem vir die vooraanstaande Business and Arts South Africa- benoemings (BASA) vir hul betrokkenheid by 2010 se Suidoosterfees.

In die kategorie Mediaborgskap is Die Burger, wat die kunstefees se naamborg al sedert die eerste fees van 2003 is, benoem.

Die Suidoosterfees word aansienlik deur Die Burger bemark. Die fees is nommerpas vir Die Burger se Afrikaanse teikenmark. Die sinergie tussen die fees en die koerant het daartoe bygedra dat die fees gou bekendheid verwerf het.

In die kategorie Welwillendheidsborgskap is die Protea Hotel Victoria Junction benoem wat tydens die Suidoosterfees van 2010 aan kunstenaars huisvesting verskaf het.

Die Suidoosterfees se naam het al voorheen by die BASA-benoemings opgeduik. Dit is in 2004  benoem vir verhoogde toegang tot die kunste en Kaap-Rapport in 2008 vir hul borgskap van die fees se korekompetisie. Bakgat Movers is verlede jaar as vervoerborg van die fees met ’n toekenning bekroon.   

”Dit is vir die Suidoosterfees ’n geweldige eer dat van ons borge vanjaar weer benoem is,” sê dr. Niel le Roux, uitvoerende hoof van die Suidoosterfees. ”As naamborg speel Die Burger beslis ’n sleutelrol om die Suidoosterfees se naam in die kunstewêreld hoog te hou. Ons is voorwaar trots daarop om ’n wonderlike, voortdurende sinergie met dié gewilde Kaapse dagblad te hê.

”Ons is ook dankbaar dat die nabygeleë Protea Hotel Victoria Junction bereid was om gratis  luukse huisvesting aan Suidoosterfees-kunstenaars te bied wat hul deelname aan die Suidoosterfees nog aangenamer gemaak het.”

Die wenners van die 14de BASA-benoemings sal op 29 Augustus tydens ’n glansgeleentheid in Johannesburg bekend gemaak word. Besoek ook www.basa.co.za.

* Die Suidoosterfees vind in 2012 van 14 tot 19 Februarie by Artscape, Kaapstad, plaas. Lees meer oor die fees op Twitter (www.twitter.com/Suidoosterfees_) en Facebook by
www.facebook.com/Suidoosterfees.

Rig navrae oor die fees aan suidooster@media24.com of bel (021) 446 1558.