Labels

Thursday 17 November 2011

Beleef Jaypee Malherbe se eg menslike verhaal op Suidoosterfees 2012


Bye Ma, Jaypee is ’n eg menslike, ware verhoogstuk oor ’n gay seun se liefde vir sy ma, met lewensgetroue humoristiese oomblikke wat jou sal laat huil van die lag om kort daarna weer ’n hartseer traan weg te pink.

Dit is akteur Chris van Niekerk, wat die rol van die seun, Jaypee Malherbe vertolk, se eerste eenmanvertoning. Van Niekerk is veral bekend as Francois in 7de Laan en het met sy briljante vertolking in die toneelstuk Dinsdae by Morrie teatergangers se hartsnare geroer.

Die bekende Dowwe Dolla, Margit Meyer-Rödenbeck, is die regisseur van Bye Ma, Jaypee en die teks is deur die Nagtegaal-dramateksfinalis Daleen Kruger, wie se Jonas ook op die fees te sien sal wees, geskryf.

Die produksie sal slegs twee keer tydens die Suidoosterfees opgevoer word – Saterdag 18 Februarie om 14:30 en Sondag 19 Februarie om 17:30. Kaartjies R85 by Computicket.

·         Die Suidoosterfees vind van 14 tot 19 Februarie by Artscape plaas. Die volledige feesprogram word op 25 November bekend gemaak. Besoek www.suidoosterfees.co.za, www.facebook.com/Suidoosterfees of Twitter vir feesnuus en meer. Rig navrae aan 021 446 1558 of suidooster@media24.com.

No comments:

Post a Comment