Labels

Thursday 24 November 2011

Suidoosterfees 2012: 'n Fees van Liefde

Vinette Ebrahim en Christo Davids in
My Naam/Name is Ellen Pakkies.
Met “ ’n Fees van Liefde” as tema beloof Suidoosterfees 2012, wat by Artscape plaasvind, ’n program propvol liefde – ’n liefde vir kuns, jou geliefde, vir familie en vir die lewe.

Verskeie bekendes sal tydens die fees optree, soos Vinette Ebrahim en Christo Davids (in My Naam/Name is Ellen Pakkies), Ingrid Paulus en Kim Cloete (in Dit Voel Leeg), die 2011 Kanna-Slurpie-wenner Shimmy Isaacs (in die trefferkomedie "Howzit my Bra"), Emo en Loukmaan Adams (in ’n Plekkie in die Son ... Mitchells Plain se Mense) en Casper de Vries in ’n stoute vertoning spesiaal vir die Suidoosterfees.

Rocco de Villiers

Musiekgunstelinge soos Rocco de Villiers, Auriol Hays, Ringo Madlingozi, die Delft Big Band en Kaapstad se bekende, gewilde fopdosser, Odidiva, sal gehore verder vermaak. Aanhangers van 2011 se Huisgenoot Gospelkonsert moet kennis neem van die volgende vertoning met Juanita du Plessis, Romanz, Rouchelle Liedemann, die SA Jeugkoor, Ivan Swiegelaar, Bobby van Jaarsveld, Trevor Sampson, Joe Niemand, Riana Nel, Matthys Maree en sy orkes. Voeg by dié opwindende musiekproduksies die uitstekende, derde SOF Klassiek-konsert met opkomende jong sterre, Friedel Mitas (sopraan), Ryan van der Rheede (tromboon) en Megan-Geoffrey Prins (pianis).

Een van Walter Battiss se kunswerke. 
 Ons vier die liefde vir die visuele met ’n uitstalling van werke deur Walter Battiss. Hy was die skepper van die Fook Island-konsep en sy briljante werke is wêreldwyd beroemd.

Kuier Hart2Hart
Wat is nou beter as om die fees op 14 Februarie met ’n dans te te begin? Die Kuier Valentynsdans sal net die plek wees om die liefde op die dansvloer te laat seëvier.

Viva la Mamma. Foto deur Jesse Kate Kramer
Die Suidoosterfees bring ook splinternuwe teaterwerke na die verhoog. Dit sluit in die Afrika-première van die heerlike, vermaaklike opera Viva la Mamma, waarin die rol van die mamma, Donna Agata, deur die bariton Siyabulela Ntale, gepas geklee vir die rol, gesing word.

'n Plekkie in die Son ... Mitchells Plain
se Mense
  ’n Plekkie in die Son... Mitchells Plain se Mense is ’n unieke musiekteaterproduksie met bekende kunstenaars, soos die broers Emo en Loukmaan Adams, wat die stories van Mitchells Plain se verlede en hede vertel deur musiek, dans, komedie en meer. ’n Boek oor Mitchells Plain sal ook by die produksie se première bekend gestel word. Me. Marlene le Roux van Artscape is die samesteller van hierdie koffietafelboek, wat met die ondersteuning van die Franse Regering via Alliance Francais en onder leiding van dr. Ludmilla Ommundsen moontlik gemaak is.

Kim Cloete vertolk die hoofrol in Dit Voel Leeg.
Die Afrikaanse toneelstuk Dit Voel Leeg, gebaseer op die Britse dramaturg Lucy Kirkwood se It Felt Empty When The Heart Went At First But It Is Alright Now en vertaal deur Hugo Taljaard, handel oor hoe ’n onskuldige meisie van Rehoboth (vertolk deur die televisiester Kim Cloete) na Kaapstad gelok en in ’n lewe van prostitusie vasgevang word. Die 7de Laan-aktrise Ingrid Paulus is ook in die stuk te sien, met 7de Laan se regisseur, Henry Mylne, as regisseur van dié stuk.

Mimi Coertse
Die Suidoosterfees vier saam met kykNET die bekroonde Suid-Afrikaanse operasanger Mimi Coertse se 80ste verjaardag in 2012 met ’n spesiale konsert, getiteld kykNET vir Mimi, met plaaslike sangtalent.

Die Central Karoo Revue
Die gemeenskap van Beaufort-West kom na die voorgrond in Die Central Karoo Revue, ’n produksie van musiek, dans en sang oor hierdie dorp in die hart van die Karoo.

Peter Butler is deel van Baby se rolverdeling.
 Nog nuwe produksies sluit in Baby, gebaseer op die kortverhaal van die bekende EKM Dido.

Uhlazo
Die fees se program sluit ook in die isiXhosa drama Uhlazo, wenner van die 2011 Zabalaza-fees van die Baxter-teater, die Suidoosterfees 2011 juweelstuk Cockroach en Venus Noire, die Franse Filmfees-treffer oor die moeilike lewe van Sarah Baartman, in.

Erica Wessels is te sien in
Bullets over Bishop Lavis.
Ander feesgunstelinge op die Suidoosterfeesprogram is Bullets over Bishop Lavis (geskryf deur Christo Davids en regie deur Jody Abrahams), Bye Ma, Jaypee (met die gewilde voormalige 7de Laan-akteur Chris van Niekerk), Jonas (’n treffer by die Volksblad-kunstefees van 2010 wat handel oor die Weskus-vissermanne se struwelinge), Trein Smash (Riaan Visman se kabaretopvolg van die gewilde Kap’An by Suidoosterfees 2011), GIF (Celeste Slabber-Loriston se eenvroustuk oor die getroude lewe en al sy uitdagings), die Weskus/Eden Dramafees (vier van die beste skoleproduksies uit dié omgewings), die uiters gewilde Rapport/ATKV-korekompetisie, asook kindervermaak met Lollos, Cool Classic Kidz en Liewe Heksie en die Wals (met Dowwe Dolla as die heks). Kuier Hart2Hart sal spesiaal vir vroue vier ure propvol vermaak bied.
  
Rachelle Jordaan gaan in Die Burger/RSG-tent optree.
 Laaste, maar nie die minste nie, is gratis, topklas vermaak op die spyskaart in Die Burger/RSG-Tent waar opkomende Kaapse sangers deurlopende musiekvermaak vanaf 17 tot 19 Februarie sal verskaf.

Kaartjies vir Suidoosterfees-produksies is beskikbaar by Computicket. Besoek www.suidoosterfees.co.za, www.facebook.com/Suidoosterfees en www.twitter.com/Suidoosterfees_ vir feesnuus. Stuur e-pos aan suidooster@media24.com.


No comments:

Post a Comment