Labels

Thursday 22 September 2011

Shimmy Isaacs terug by Suidoosterfees 2012 met ”Howzit my Bra”


Die talentvolle komediant Shimmy Isaacs het Suidoosterfees-gehore vanjaar laat kraai van die lag met haar eenvrou-komediestuk Allie Pad Funny Worcester.

Met reeds ’n wenslag by die 2010 Ikhewzi-fees, het Shimmy vanjaar nog ’n eerbewys ingeoes toe sy as die Klein Karoo Nasionale Kunstefees se Kanna Slurpie-wenner vir ”Howzit my Bra” aangewys is. Dié produksie met sy uitbundige humor sal beslis ’n komiese hoogtepunt op Suidoosterfees 2012 wees.

Die bekende aktrise Anthea Thompson, wat saam met Shimmy in die trefferkomediestuk Cracks and  the City te sien was, is die regisseur van ”Howzit my Bra”.

Tesame met verskeie kwessies rakende die bra, takel ”Howzit my Bra” ook die onderwerp van borskanker en gee ’n stem aan diegene wat die gevreesde siekte oorleef het.

”Howzit my Bra” word op 15 Februarie om 21:00, 18 Februarie om 14:30 en 19 Februarie om 18:30 by Suidoosterfees 2012 opgevoer. Besprekings vir dié stuk, My Naam/My Name is Ellen Pakkies en die Huisgenoot Gospelkonsert is reeds oop by Computicket. Skakel 021 446 1558 of stuur e-pos na suidooster@media24.com. Volg die fees by www.facebook.com/Suidoosterfees vir feesnuus en meer.

* Die Suidoosterfees is van 14 tot 19 Februarie by Artscape. Die volledige program is 25 November beskikbaar. Hou die fees se webwerf, www.suidoosterfees.co.za, en die pers dop vir meer besonderhede.

Thursday 15 September 2011

Hartroerende My Naam/Name is Ellen Pakkies op Suidoosterfees te sien



Met ’n tema van ” ’n Fees van Liefde” bied die Suidoosterfees in 2012 gepaste produksies waarin liefde die botoon vier. Liefde vir die kunste, familieliefde, ’n liefde vir kos, ’n liefde vir die lewe, noem maar op.

Die liefde van ’n ma vir haar seun is die hart van die hartroerende My Naam/Name is Ellen Pakkies. Dié gewilde toneelstuk, met die bekende aktrise Lizz Meiring as regisseur, is geskoei op die ware verhaal van Pakkies, ’n ma wie se liefde vir haar tikverslaafde seun haar tot die uiterste gedryf het: Moord.

Vinette Ebrahim, wat die rol van die geliefde koffiewinkeleienaar Charmaine in 7de Laan vertolk, is Pakkies en 7de Laan se ”Errol”, Christo Davids, haar seun, Abie.

Ebrahim, ’n Suidoosterfees-skouerklopwenner, was al verskeie keer op die Suidoosterfees te sien in onder meer Vaselinetjie, Miss Africa South, Poppie en Boesman en Lena. Davids was voorheen op die fees in Krismis van Map Jacobs.

My Naam/Name is Ellen Pakkies word twee keer tydens die Suidoosterfees opgevoer op 18 en 19 Februarie, telkens om 13:00. Besprekings reeds vanaf 16 September. Kaartjies by Computicket te koop.  

* Die Suidoosterfees vind vanaf 14 tot 19 Februarie by Artscape plaas. Bel 021 446 1558 of stuur e-pos na suidooster@media24.com.


Friday 2 September 2011

Kaap-Rapport/ATKV Korekompetisie-slypskole


Deur Rene Arendse


Ter voorbereiding vir die opwindende Kaap-Rapport/ATKV Korekompetisie 2012 het deelnemende kore van wyd en syd koreslypskole bygewoon gedurende Augustus.

Hierdie slypskool-avontuur het afgeskop in die Oudsthoornstreek waartydens gemengde kore, jeugkore en plaaskore 'n produktiewe slypskoolsessie met korekenner Elmine Bester kon geniet. Kore ontvang tydens die slypskool individuele aandag waartydens aspekte soos asemhaling- en opwarmingstegnieke aangespreek word. Met die toepassing van hierdie basiese koorsang elemente het sangkwaliteit en -produksie voor oë verbeter. Ander sang-elemente soos uitspraak, diksie en frasering verbetering het ons kore soos diamante geslyp. Ons gaskoor, Die Griekwa Nasionale Koor, het ons met besonderse gasvryheid ontvang in "The Crags" buite Plettenbergbaai. Ons tog het vanaf Plettenbergbaai voortgestuur na die Langkloof area. Ons gasvrou, Maralda Crous, het gesorg vir akkommodasie en ses plaaskore wie ons met hierdie slypskool kon verryk. Die kombinasie van pragtige berge en koorsang het ons harte warm laat klop.

Die Swartland was ons volgende stop... Plaaskore van omliggende areas het vir ons bewys dat toegewydheid vir die kunste nog lewe! Ongeveer 18 kore was tydens ons slypskool teenwoordig. Ons koorlede was betower met ons bekwame koorkenners en afrigters Sonja van Amstel en Ryta Zmuro. Kore het bemagtig en vol inspirasie ons slypskole verlaat. Vir baie kore was dit 'n proses van transformasie, veral vir die wie nog nooit enige professionele afrigting ontvang het nie. Swartland munispale ondersteuning was baie duidelik met die teenwoordigheid van hul lede en selfs hul wonderlike bydrae tot akkommodasie en gasvryheid.

Die Boland het ons op 'n hoogtepunt laat eindig. Vele kore van so ver as Ashton, Ceres en selfs Kaapse vlakte het ons verras met hul bekwame koorleiers en wonderlike talente! Sonja van Amstel het met elke koor haar passie en talent gedeel en verseker dat elke deelnemende lid kon terugkeer met nuwe insigte en 'n visie.

Groot dank en lof aan die ondersteuning van instansies wie ons slypskool moontlik kon maak deur hul gasvryheid met lokale en akkommodasie. Hoërskool Rhenish Meisieskool, Frank Pietersen Musieksentrum en ook die Swartland Stadsaal was o.a. van ons ondersteuners wie groot lof toekom. Hierdie instansies deel ons visie om kunste in ons gemeenskappe te laat voortleef en groei.


Vanaf ons koorlede: " Baie dankie Kaap-Rapport en ATKV... julle verander ons lewens!"