Labels

Friday 28 October 2011

’Dit Voel Leeg’ debuteer op Suidoosterfees 2012



Mensehandel is ’n wrede Suid-Afrikaanse werklikheid. Hierdie onderwerp tree na vore in Dit Voel Leeg. Dié splinternuwe teaterdrama wat op die Suidoosterfees sal première, is geskoei op die Britse dramaturg Lucy Kirkwood se bekroonde, opspraakwekkende stuk It Felt Empty When The Heart Went At First But It’s Alright Now.

In Suid-Afrikaanse konteks, soos vertaal en verwerk deur Hugo Taljaard, en onder regie van 7de Laan- en Vaselinetjie-regisseur Henry Mylne, handel Dit Voel Leeg oor ’n naïewe jong meisie van Rehoboth in Namibië, wat onder valse voorwendsels deur haar Nigeriese kêrel na Kaapstad gelok word. Sy word gedwing tot ’n lewe van prostitusie en dwelms, maar haar drome om weg te breek verdwyn nie, ondanks die aaklige omstandighede waarin sy haarself bevind.



Kim Cloete speel die hoofrol en 7de Laan se Vanessa, Ingrid Paulus, vorm saam met haar die tweeluik.

Aangesien slegs vyf vertonings van die stuk in die Brimstone/Lion of Africa Arena, met beperkte getal sitplekke op Suidoosterfees 2012 aangebied word op Woensdag 15 Februarie om 18:00, Donderdag 16 Februarie om 20:30, Vrydag 17 Februarie om 17:30, Saterdag 18 Februarie om 12:00 en Sondag 19 Februarie om 12:30, moet teaterliefhebbers spring om kaartjies te bekom. Toegang is R95 en kan vanaf 28 Oktober by Computicket gekoop word.


·         Suidoosterfees 2012 is vanaf 14 tot 19 Februarie by Artscape. Bel 021 446 1558, besoek www.suidoosterfees.co.za, www.facebook.com/Suidoosterfees, Twitter of stuur e-pos na suidooster@media24.com

Thursday 20 October 2011

Legendariese Ringo Madlingozi eenmalig op Suidoosterfees-verhoog



Ritme. Inspirasie. Natuurlike talent. Goed. Oorspronklik. Dit is RINGO. Daar is min Suid-Afrikaanse sangers wat so in voeling met die ritme van hul siel is soos die briljante, Gugulethu-gebore sanger, Sindile Ringo Madlingozi. Vir sy aanhangers in Suid-Afrika en die res van die wêreld is hy slegs bekend as Ringo: Ringo wat die land aan die praat gehad het toe hy destyds in 1986 die Shell Road to Fame-kompetisie saam met sy vriende en medemusikante, Peto, gewen het; die ster by musiekgeleenthede oor die wêreld heen.

Vanaf sy debuut, Vukani, in 1996 tot sy 2010-album, Jayva Sbali, het Ringo homself gevestig as ’n kunstenaar wat liedjies met ’n sterk Afrikastem skep, maar wat ook met ’n wêreldwye gehoor praat.

Sy energieke vertonings het aan hom groot lof besorg, iets waarna Suidoosterfees 2012 feesgangers kan uitsien. Hy het wêreldwyd gehore betower, van die North Sea Jazz Festival in Den Haag, Nederland, uitverkoopte vertonings in Brittanje en Spanje tot die gewilde New Orleans-jazzfees in Amerika. Plaaslik het hy ook SAMA- en Kora All African Music Awards-benoemings ontvang.

Kaartjies vir Ringo Madlingozi se vertoning by Suidoosterfees 2012 is vanaf 21 Oktober by Computicket beskikbaar. Aanhangers moet wel vroeg reeds bespreek om teleurstelling te voorkom, aangesien daar slegs een vertoning op Saterdag 18 Februarie om 20:30 in Artscape se Operahuis is.
·         Die Suidoosterfees is van 14 tot 19 Februarie by Artscape. Bel 021 446 1558, stuur e-pos na suidooster@media24.com of besoek www.suidoosterfees.co.za.

Thursday 13 October 2011

‘Viva la Mamma’ - ’n heerlike fopdos opera by Suidoosterfees 2012


Donizetti se genotvolle, komiese opera, Viva la Mamma, gaan Kaapstad op horings neem met ’n Afrika première tydens die Suidoosterfees. Dit sal die vierde SA Richard Wagner Vereniging operaproduksie op die Suidoosterfees wees.  Viva la Mamma is ’n opera binne ’n opera met drie veeleisende divas, ‘n maestro en ‘n komponis met enorme egos, en al die drama wat agter die skerms plaasvind.

Uitstekende, lewenslutige, plaaslike jong sangers - Hlengiwe Mkhwanazi, Thesele Kemane, Lynelle Kenned, ­­­­­­­­­Thando Mpushe, Mandisinde Mbuyazwe, Karen van der Walt, Makudupanyane Senaoana en Phelo Nodlayiya - sal Viva la Mamma jou komiese opera-hoogtepunt van die jaar maak.  Die rol van die verruklike mamma, Donna Agata, word deur die bariton Siyabulela Ntlale in gepaste drag gesing.

Donizetti se lieflike musiek word met Kamal Khan as dirigent deur die Kaapse Filharmoniese Orkes uitgevoer.  Lara Bye, wat die uiters suksesvolle Der Fliegende Holländer vir Suidoosterfees 2011 regisseer het, is weer die regisseur en Reza Levy die kostuumontwerper. 

Terwyl finansiële druk die opera in Viva la Mamma bedreig, sal die histeriese Italiaanse libretto met Engelse boskrifte, die onderlinge jaloesie en klein jakkalsies wat so baie produksies beїnvloed, na vore bring.  Moenie hierdie unieke opera-eerste misloop nie!

Vertonings in die kykNET-teater van Artscape is op Donderdag 16 Februarie om 20:00, Saterdag 18 Februarie om 19:30 en Sondag 19 Februarie om 16:00. Kaartjies is R220, R185 of R100 en kan vanaf 14 Oktober by Computicket gekoop word. 

Friday 7 October 2011

Casper de Vries ’live’ by Suidoosterfees 2012


Die skreeusnaakse Casper de Vries trek met gemak verskillende karakters se “skoene” aan – van Blertsie, oom Kallie tot Montelle in sy komediesketse, plus rolle in Egoli, Sweet ’n Short en Oh Shucks Here Comes UNTAG. Hy het ook verskeie DVD’s, soos Broeders Ancestors, Mondig en Laat Daar Lag Wees, uitgereik.

Casper bring in 2012 ’n spesiale vertoning na die Suidoosterfees met Casper de Vries – Live, wat beloof om Casper op sy stoutse en beste te wees.

Aanhangers moet gou spring vir kaartjies, aangesien daar slegs een vertoning op Donderdag 16 Februarie om 19:30 in Artscape se Operahuis is. Kaartjies kan vanaf 7 Oktober by Computicket gekoop word en kos R100, R150 of R200.

Bel 021 446 1558 of stuur e-pos na suidooster@media24.com.

* Die Suidoosterfees vind van 14 tot 19 Februarie by Artscape plaas. Die volledige feesprogram word op 25 November bekend gemaak. Besoek die fees se Facebook-blad by www.facebook.com/Suidoosterfees vir feesnuus en meer.