Labels

Wednesday 17 August 2011

Koreslypskool Avontuur!


 
René Arendse, projekbestuurder van Suidoosterfees 2012 se Kaap-Rapport/ATKV-korekompetisie, vertel meer oor 'n afgelope koreslypskool:

"Met sowat 1 800 km agter die rug kan ek getuig van absolute uitputting tesame met absolute tevredenheid met 'n naweek wat soveel harte geraak het!

"Ons eerste sessie was ongeveer 3 ure uit Oudsthoorn by 'n klein gemeenskap, "The Crags", waar die Griekwa Nasionale koor ons verwelkom het en ook die gaskoor was vir die deelnemende kore vir die dag. In 'n gemeenskap wat materieel so min het, het hulle uit hul min vir ons die beste binne hul vermoëns aangebied! Nie net het hulle vir ons span getrakteer nie, maar al die deelnemende koorlede vir die dag was bederf met roosterkoeke, gebraaide hoender, slaaie en selfs poeding. Deelnemende kore het hard gewerk en die vonkel in hul oë het getuig van die genot en insig deur die slypskool ontgin.

"Sondag oggend vroeg was ons oppad na Langkloof distrik sowat 4 ure uit Oudsthoorn. Daar was ons verras met 5 baie toegewyde plaaskore. Die hele gemeenskappie het later ingesit en elke koor toegejuig. Selfs die plaasboere van elke koor het met trots agter in die saal gesit en die sessie geniet. Baie kennis was oorgedra veral t.o.v. diksie, frasering en veral tegniek.

"BAIE DANKIE aan Heinrich van Rapport wie ons veilig vir soveel km laat reis het!!! Hy het 'n ongelooflike taak bemagtig!!

"Ons skep asem ... en sien uit na die naweek wat voorlê!"

Thursday 4 August 2011

Suidoosterfees-borge skitter met BASA-benoemings

Die Burger en die Protea Hotel Victoria Junction is onlangs benoem vir die vooraanstaande Business and Arts South Africa- benoemings (BASA) vir hul betrokkenheid by 2010 se Suidoosterfees.

In die kategorie Mediaborgskap is Die Burger, wat die kunstefees se naamborg al sedert die eerste fees van 2003 is, benoem.

Die Suidoosterfees word aansienlik deur Die Burger bemark. Die fees is nommerpas vir Die Burger se Afrikaanse teikenmark. Die sinergie tussen die fees en die koerant het daartoe bygedra dat die fees gou bekendheid verwerf het.

In die kategorie Welwillendheidsborgskap is die Protea Hotel Victoria Junction benoem wat tydens die Suidoosterfees van 2010 aan kunstenaars huisvesting verskaf het.

Die Suidoosterfees se naam het al voorheen by die BASA-benoemings opgeduik. Dit is in 2004  benoem vir verhoogde toegang tot die kunste en Kaap-Rapport in 2008 vir hul borgskap van die fees se korekompetisie. Bakgat Movers is verlede jaar as vervoerborg van die fees met ’n toekenning bekroon.   

”Dit is vir die Suidoosterfees ’n geweldige eer dat van ons borge vanjaar weer benoem is,” sê dr. Niel le Roux, uitvoerende hoof van die Suidoosterfees. ”As naamborg speel Die Burger beslis ’n sleutelrol om die Suidoosterfees se naam in die kunstewêreld hoog te hou. Ons is voorwaar trots daarop om ’n wonderlike, voortdurende sinergie met dié gewilde Kaapse dagblad te hê.

”Ons is ook dankbaar dat die nabygeleë Protea Hotel Victoria Junction bereid was om gratis  luukse huisvesting aan Suidoosterfees-kunstenaars te bied wat hul deelname aan die Suidoosterfees nog aangenamer gemaak het.”

Die wenners van die 14de BASA-benoemings sal op 29 Augustus tydens ’n glansgeleentheid in Johannesburg bekend gemaak word. Besoek ook www.basa.co.za.

* Die Suidoosterfees vind in 2012 van 14 tot 19 Februarie by Artscape, Kaapstad, plaas. Lees meer oor die fees op Twitter (www.twitter.com/Suidoosterfees_) en Facebook by
www.facebook.com/Suidoosterfees.

Rig navrae oor die fees aan suidooster@media24.com of bel (021) 446 1558.