Met sy bont kleure, gebruikersvriendelike uitleg en prettige ontwerp is die Suidoosterfees se webwerf, www.suidoosterfees.co.za, ’n ware fees vir die oog.
Active Ice Digital Media Studio het die spoggerige webwerf, asook die feesprogramboekie, ontwerp en boonop die Suidoosterfees-webwerf vir ’n Awwward-toekenning ingeskryf. Nou pryk www.suidoosterfees.co.za as benoemde op www.awwwards.com.
”Die Suidoosterfees-webwerf is iets waarop almal kan trots wees,” sê Sean Leask, ’n digitale media-ontwerper by Active Ice wat by die Suidoosterfees-webwerf se ontwikkeling en instandhouding betrokke is. ”Dis kleurvol, opwindend en beslis die moeite werd om te besoek.”
Awwwards gee erkenning aan wêreldwye webwerf-ontwerpe. Luidens die webwerf sal ’n internasionale paneel, bestaande uit ontwerpers, bloggers en Internet-agentskappe, elke benoemde webwerf evalueer en punte gee in terme van ontwerp, kreatiwiteit, hoe gebruikersvriendelik dit is en hoe die inhoud aangebied word.
Die beste webwerwe word die ”site of the day” en sal in die boek The 365 best css websites around the world ingesluit word.
Vinette Ebrahim en Christo Davids in My Naam/Name is Ellen Pakkies.
Met “ ’n Fees van Liefde” as tema beloof Suidoosterfees 2012, wat by Artscape plaasvind, ’n program propvol liefde – ’n liefde vir kuns, jou geliefde, vir familie en vir die lewe.
Verskeie bekendes sal tydens die fees optree, soos Vinette Ebrahim en Christo Davids (in My Naam/Name is Ellen Pakkies), Ingrid Paulus en Kim Cloete (in Dit Voel Leeg), die 2011 Kanna-Slurpie-wenner Shimmy Isaacs (in die trefferkomedie "Howzit my Bra"), Emo en Loukmaan Adams (in ’n Plekkie in die Son ... Mitchells Plain se Mense) en Casper de Vries in ’n stoute vertoning spesiaal vir die Suidoosterfees.
Rocco de Villiers
Musiekgunstelinge soos Rocco de Villiers, Auriol Hays, Ringo Madlingozi, die Delft Big Band en Kaapstad se bekende, gewilde fopdosser, Odidiva, sal gehore verder vermaak. Aanhangers van 2011 se Huisgenoot Gospelkonsert moet kennis neem van die volgende vertoning met Juanita du Plessis, Romanz, Rouchelle Liedemann, die SA Jeugkoor, Ivan Swiegelaar, Bobby van Jaarsveld, Trevor Sampson, Joe Niemand, Riana Nel, Matthys Maree en sy orkes. Voeg by dié opwindende musiekproduksies die uitstekende, derde SOF Klassiek-konsert met opkomende jong sterre, Friedel Mitas (sopraan), Ryan van der Rheede (tromboon) en Megan-Geoffrey Prins (pianis).
Een van Walter Battiss se kunswerke.
Ons vier die liefde vir die visuele met ’n uitstalling van werke deur Walter Battiss. Hy was die skepper van die Fook Island-konsep en sy briljante werke is wêreldwyd beroemd.
Kuier Hart2Hart
Wat is nou beter as om die fees op 14 Februarie met ’n dans te te begin? Die Kuier Valentynsdans sal net die plek wees om die liefde op die dansvloer te laat seëvier.
Viva la Mamma. Foto deur Jesse Kate Kramer
Die Suidoosterfees bring ook splinternuwe teaterwerke na die verhoog. Dit sluit in die Afrika-première van die heerlike, vermaaklike opera Viva la Mamma, waarin die rol van die mamma, Donna Agata, deur die bariton Siyabulela Ntale, gepas geklee vir die rol, gesing word.
'n Plekkie in die Son ... Mitchells Plain
se Mense
’n Plekkie in die Son... Mitchells Plain se Mense is ’n unieke musiekteaterproduksie met bekende kunstenaars, soos die broers Emo en Loukmaan Adams, wat die stories van Mitchells Plain se verlede en hede vertel deur musiek, dans, komedie en meer. ’n Boek oor Mitchells Plain sal ook by die produksie se première bekend gestel word. Me. Marlene le Roux van Artscape is die samesteller van hierdie koffietafelboek, wat met die ondersteuning van die Franse Regering via Alliance Francais en onder leiding van dr. Ludmilla Ommundsen moontlik gemaak is.
Kim Cloete vertolk die hoofrol in Dit Voel Leeg.
Die Afrikaanse toneelstuk Dit Voel Leeg, gebaseer op die Britse dramaturg Lucy Kirkwood se It Felt Empty When The Heart Went At First But It Is Alright Now en vertaal deur Hugo Taljaard, handel oor hoe ’n onskuldige meisie van Rehoboth (vertolk deur die televisiester Kim Cloete) na Kaapstad gelok en in ’n lewe van prostitusie vasgevang word. Die 7de Laan-aktrise Ingrid Paulus is ook in die stuk te sien, met 7de Laan se regisseur, Henry Mylne, as regisseur van dié stuk.
Mimi Coertse
Die Suidoosterfees vier saam met kykNET die bekroonde Suid-Afrikaanse operasanger Mimi Coertse se 80ste verjaardag in 2012 met ’n spesiale konsert, getiteld kykNET vir Mimi, met plaaslike sangtalent.
Die Central Karoo Revue
Die gemeenskap van Beaufort-West kom na die voorgrond in Die Central Karoo Revue, ’n produksie van musiek, dans en sang oor hierdie dorp in die hart van die Karoo.
Peter Butler is deel van Baby se rolverdeling.
Nog nuwe produksies sluit in Baby, gebaseer op die kortverhaal van die bekende EKM Dido.
Uhlazo
Die fees se program sluit ook in die isiXhosa drama Uhlazo, wenner van die 2011 Zabalaza-fees van die Baxter-teater, die Suidoosterfees 2011 juweelstuk Cockroach en Venus Noire, die Franse Filmfees-treffer oor die moeilike lewe van Sarah Baartman, in.
Erica Wessels is te sien in Bullets over Bishop Lavis.
Ander feesgunstelinge op die Suidoosterfeesprogram is Bullets over Bishop Lavis (geskryf deur Christo Davids en regie deur Jody Abrahams), Bye Ma, Jaypee (met die gewilde voormalige 7de Laan-akteur Chris van Niekerk), Jonas (’n treffer by die Volksblad-kunstefees van 2010 wat handel oor die Weskus-vissermanne se struwelinge), Trein Smash (Riaan Visman se kabaretopvolg van die gewilde Kap’An bySuidoosterfees 2011), GIF (Celeste Slabber-Loriston se eenvroustuk oor die getroude lewe en al sy uitdagings), die Weskus/Eden Dramafees (vier van die beste skoleproduksies uit dié omgewings), die uiters gewilde Rapport/ATKV-korekompetisie, asook kindervermaak met Lollos, Cool Classic Kidz en Liewe Heksie en die Wals (met Dowwe Dolla as die heks). Kuier Hart2Hart sal spesiaal vir vroue vier ure propvol vermaak bied.
Rachelle Jordaan gaan in Die Burger/RSG-tent optree.
Laaste, maar nie die minste nie, is gratis, topklas vermaak op die spyskaart in Die Burger/RSG-Tent waar opkomende Kaapse sangers deurlopende musiekvermaak vanaf 17 tot 19 Februarie sal verskaf.
Bye Ma, Jaypee is ’n eg menslike, ware verhoogstuk oor ’n gay seun se liefde vir sy ma, met lewensgetroue humoristiese oomblikke wat jou sal laat huil van die lag om kort daarna weer ’n hartseer traan weg te pink.
Dit is akteur Chris van Niekerk, wat die rol van die seun, Jaypee Malherbe vertolk, se eerste eenmanvertoning. Van Niekerk is veral bekend as Francois in 7de Laan en het met sy briljante vertolking in die toneelstuk Dinsdae by Morrie teatergangers se hartsnare geroer.
Die bekende Dowwe Dolla, Margit Meyer-Rödenbeck, is die regisseur van Bye Ma, Jaypee en die teks is deur die Nagtegaal-dramateksfinalis Daleen Kruger, wie se Jonas ook op die fees te sien sal wees, geskryf.
Die produksie sal slegs twee keer tydens die Suidoosterfees opgevoer word – Saterdag 18 Februarie om 14:30 en Sondag 19 Februarie om 17:30. Kaartjies R85 by Computicket.
·Die Suidoosterfees vind van 14 tot 19 Februarie by Artscape plaas. Die volledige feesprogram word op 25 November bekend gemaak. Besoek www.suidoosterfees.co.za, www.facebook.com/Suidoosterfees of Twitter vir feesnuus en meer. Rig navrae aan 021 446 1558 of suidooster@media24.com.
’n Glansryke koffietafelboek, ’n weeklange foto-uitstalling én ’n produksie met bekende Kaapse glanspersoonlikhede van Mitchells Plain, is die vlagskipaanbieding op die negende Suidoosterfees vanaf 14 tot 19 Februarie by Artscape.
’n Plekkie in die Son ... Mitchells Plain se Mense is ’n ko-produksie tussen die Suidoosterfees en Artscape met ’n sterbelaaide rolverdeling soos onder andere Emo en Loukmaan Adams, die Khoisan rapper Blaqpearl, die SA’s Got Talent-wenner James Bhemgee en Melanie Jones. Die bekende Basil Appollis is die regisseur van hierdie musiekteater wat storievertellings en liedjies kombineer om met deernis die verlede en hede van Mitchells Plain uit te beeld.
Me. Marlene le Roux, direkteur van Artscape en die Suidoosterfees, het die gelyknamige koffietafelboek saamgestel met befondsing van die Franse Regering via die Alliance Francaise in Mitchells Plain, onder leiding van dr. Ludmilla Ommundsen, en word op 15 Februarie, voor die première van ’n Plekkie in die Son ... Mitchells Plain se Mense, bekendgestel.
’n Gratis voorlesing uit die boek sal ook op Vrydag 17 Februarie om 17:00 voor die vertoning plaasvind.
’n Plekkie in die Son ... Mitchells Plain se Mense sal slegs twee vertonings op die Suidoosterfees hê – Woensdag 15 Februarie om 19:30 en Vrydag 17 Februarie om 18:00. Kaartjies kan vanaf 11 November by Computicket bespreek word.